Gits, dit het omtrent dink gevat om net met die titel vorendag te kom. Hoekom? Wel, ek plagiaat (klink soveel mooier as steel!) hierdie resep uit een van my skoonsus se kookboeke. Ons het dit oor die naweek gemaak as ’n voorgereg saam met sout beskuitjies en dit was beslis ’n wenner! Plus ek het dit boonop op my Facebook en Instagram profiel gepost en nou wil ’n hele paar mense die resep hê! Om die titel te vertaal het my klaar laat kopkrap, so verskoon as die res soos ’n tipiese direkte vertaling klink!
Ek weet my Afrikaanse maatjies gaan my prys vir my intelligensie, want hoe sal die uitgewers van ’n Amerikaanse tydskrif my nou ooit gevang kry…. mwuhahahahaa! Vir die arme siele wat dit nie verstaan nie, is al wat ek kan sê: Your loss!
Ter nagedagte, wens ek daar was meer foto’s van die proses. Ek kan die rede verduidelik hoekom: wyn. Vir die wat my goed ken hoef ek glad nie te verduidelik nie, maar vir die res sal ek bieg. Ek en skoonsus het so lekker gekuier en gesels oor ’n glasie wyn (miskien meer) terwyl ons besig was, dat ek nie eers gedink het daaraan om nog foto’s te neem voor dit al te laat was nie. Ten minste was daar ’n foto van die eindproduk! En net omdat ek streef om die lewe makliker te maak vir my mede mens, het ek klaar al die bestandele terug gewerk na normaal… the metric system!
Bestandele
Kors
1 koppie droë broodkrummels – gebruik volgraan broodkrummels vir meer nuttiness
¼ koppie botter, gesmelt
Vulsel
1 eetlepel botter
250g portobello sampioene, rofweg gekap
1 knoffel huisie, fyn gemaak
½ koppie okkerneute, rofweg gekap
1 eetlepel tiemie, fyn gekap – droë tiemie kan ook gebruik word
1 teelepel soja sous
¼ teelepel wit peper
2 x 230g pakkies roomkaas, teen kamer temperatuur
½ koppie plein Griekse jogurt
2 eiers, liggies geklop
Metode
• Voorverhit die oond tot 160°C. In ’n bakkie, meng die broodkrummels en botter saam. Spuit ’n veerboompan met kleefwerende sproei en druk die mengsel in die bodem vas. Plaas in die oond en bak vir 15-17 minute of tot die kors goudbruin word. Verwyder uit oond en laat afkoel.
• In ’n pan verhit die botter oor medium tot hoë hitte. Voeg sampioene by en braai tot sag. Voeg knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Nou kan die okkerneute bygevoeg word – braai tot neute gerooster is. Laastens kan die tiemie, soja sous en peper bygevoeg word. Verwyder van hitte en laat mengsel heeltemal afkoel.
• In ’n voedsel verwerker, klop die roomkaas tot glad. Klop jogurt by. Nou die eiers en klop dit tot net gemeng. Vou die sampioen mengsel in die roomkaas mengsel in. Skep alles bo op kors en plaas terug in die oond.
• Bak vir ’n verdure 25-30 minute of tot die middel van die koek net gestol is en die bokant van die kook ’n dowwe glans kry. Verkoel vir 10 minute en maak kante dan liggies los van die pan met mes. Verkoel vir nog ’n uur en plaas in yskas oornag. Verwyder die veerkant van die pan net voor jy dit bedien.